Ons dienste begin 09:00. Kategese vind plaas na die diens.
Wanneer dit by eredienste kom, beleef mens werklik ons waardes van veral eenvoud en egtheid.
Ons voel sterk oor ‘n hele paar dinge in verband met eredienste:
- Eredienste is nie die plek waarheen mens kom om God “te ontmoet” nie. Dit is wel die plek waar mens God op ‘n besondere manier kom ontmoet. Hy ontmoet jou dwarsdeur die week in elke plek en oomblik waar jy leef.
- Eredienste is nie “produksies” nie. Ons hou dit eenvoudig. Ons smag na ‘n erediens waar daar so min as moontlik hindernisse is wat kan keer dat ons met God kan connect saam met ons familie. Ons dienste bevat nie tierlantyntjies nie.
- Eredienste en elke mens wat ‘n erediens bywoon (die dominee ingesluit) moet hulself kan wees. Geen mens kan God beindruk nie – nie eers in ‘n erediens nie. Daarom moedig ons mense aan om werklik hulself te kom wees. In die somer, is daar baie min van die manne wat met langbroeke kom. As “eg” en “jouself” vir jou beteken om ‘n pak aan te trek, is dit reg – dit is JY. As JY ‘n kortbroek of bokstert tipe mens is, is dit JY. Die Here like jou al klaar.
- Ons predikers probeer nie voorgee dat hul heel of volmaak is, of al die antwoorde het nie. Prediking geskied vanuit ‘n afhanklikheid, broosheid en nederigheid voor God en mense. Ons glo dat ons sáám by die Here na antwoorde soek en vir leiding vra.